Sien Jesus Raak!- Markus 3:1-6

Posted by

Sien Jesus Raak!- Markus 3:1-6

Die oggend het vir my so pragtig begin – ‘n vleiloerie wat rustig sy jubellied uitborrel soos helder fonteinwater wat uit  die rotse opborrel; ‘n duifie wat rustig koer dat die dag aangebreek het; die kabbelende watertjie van my visdammetjie – o hoe wonderlik bevoorreg is ek nie dat my Vader vir my die dag so mooi maak! Hy gesels met my uit die natuur!

Ook die afgelope week waar ek die wonderlike voorreg gehad het om die mooiste Kaap te kon beleef, kon ek maar net keer-op-keer uitjubel: “Hoe groot is U, hoe gróót is U!”, wanneer ek daardie asemrowende natuurskoon kon beleef van ruwe berge en brose fynbos en reusagtige rotse en spierwit strande. En tussendeur jaag mense verby dit alles sonder om dit eers raak te sien!

Ek het die wonderlike voorreg gehad om in ‘n houthuisie te kon bly op Noordhoek in die middel van ‘n digte melkhoutbos. Wanneer jy op die stoep staan kan jy amper aan die talle voëltjies raak wat in die lowergroen blare voor jou baljaar – tiptolle, glasogies, muisvoëls, willies en suikerbekkies. En daar onder, die uitgestrekte spierwit strand en die helder, yskoue smaraggroen water. Dan sak daardie ongelooflike rustigheid oor ‘n mens toe, en jy voel die nabyheid van God, so wérklik, soos ‘n sagte kombers wat om jou vou.

En ons ondervinding op Tafelberg! Toe ons die berg bestyg, is dit helder oopgetrek, en ek verwonder my aan al die mooi terwyl die kabelkarretjie daardie laaste honderd meter kreunend teen die grys kranse opbeur.

Wanneer hy sy kop onder die boonste stasie se dak intrek, skuif ‘n miswolk voor die vensters verby. Opgewonde klim ons uit om die asemrowende uitsig te bewonder – maar daar is geen uitsig nie! ‘n Swaar misbank het skielik oor die ganse berg getrek. Ons is bitter teleurgesteld, en ons begin om doelloos oor die berg te drentel. Jy sien gewoonlik foto’s van die wonderlike uitsig vanaf Tafelberg, maar jy sien nooit foto’s van hoe dit daar bo lyk nie. Wat ek daar gesien het, het my asem weggeslaan! Grys rotse, geverf in die wonderlikste kleure van “klipblommetjies” (ligene): daar is bloedrooi en geel en groen en bruin.

Die Kunstenaar wat hier so rojaal met Sy verfkwas aan die werk was, het beslis geweet wat Hy doen! Asemrowend mooi, en dan is daar die wonderlike fynbos tussen die rotse, met ragfyn blommetjies van alle kleure en geure, en hier-en-daar ‘n poeletjie helder water in ‘n holtetjie in die rotse.

En al hierdie onbeskryflike mooi is snoesig toegemaak in ‘n fyn, donsige miskombersie wat saggies om hierdie skoonheid vou, so asof hy dit wil beskerm teen al die toeriste wat op die berg saamdrom. Dan is dit asof ‘n stem hier binne in my sę: “Ek is die Groot Kunstenaar, en Ek is hier reg langs jou om die skoonheid met jou te deel!”.

Van die groot uitsig het ons niks gekry nie, maar die mooi daar bo op die berg is vasgevang in my gedagtes vir ewig!

Dan tref een van die talle kragonderbrekings ons, net wanneer ons die kabelkarretjie-stasie instap. Een vrou is byna histeries, want hoe gaan sy onder kom? Is dit ooit veilig? Wat as… Ek staan rustig by die venster en uitkyk terwyl die lang wag begin. Om my babbel dit in Italiaans en Spaans en Portugees en Chinees, Nederlands en Amerikaans, maar binne in my is dit rustig en stil. Grys kranse van die onwrikbare rots troon hier voor my op.

Ek is veilig in my Rots, Jesus, en ‘n groot rustigheid daal oor my neer.

Wanneer die kabelkarretjie ons uiteindelik pynlik-stadig teen die berg laat afsak op reserwekrag, loof ek die Here vir die wonderlike tydjie wat Hy vir my daar bo gegee het.

Wanneer Jesus op die Sabbaddag na die sinagoge gaan, is daar ‘n man met ‘n gebreklike hand. Die Fariseërs sit vir Jesus met arendsoë en dophou: gaan Hy hierdie man gesondmaak? Dit is mos nie noodsaaklik nie, want dit kan wag tot die volgende dag! Dan vra Jesus vir hulle: “Mag ‘n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?” En sonder om op ‘n antwoord te wag, maak Hy die man gesond. Hulle was diep geskok deur Jesus se handeling, en hulle het begin planne maak om van Hom ontslae te raak.

Het Jesus gekom om die wet af te takel? Nee, Hy het gekom om mense te red.

Deur die wonderwerk op die sabbat te doen, wys Hy nie net sy heerskappy oor die sabbat nie. Hy wys ook die waarheid wat reeds in Mar. 1:15 aangekondig is: die koninkryk van God het naby gekom. Die boodskap van
hierdie verhaal is dus kort en kragtig: sien vir Jesus raak, die Een wat die koninkryk van God naby gebring het! Ook vir my en jou vandag is die boodskap: Sien Jesus raak, waar jy ookal is en wat jy ookal doen. Sien Hom
raak in die wonder van die skepping, maar sien Hom ook raak waar jy werk of ontspan of selfs waar die laste van die lewe swaar op jou skouers druk.

Wéét dat Hy elke oomblik by jou is!

Louis Nel

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.