POFFERTJIES

1 koppie kookwater
1 koppie koekmeel, gesif
½ koppie botter, in blokkies gesny
4 groot eiers
Knippie sout (as jy ongesoute botter gebruik)

Kook die water in ‘n kastrol met die botter. Staan by die kastrol en die oomblik as die water kook, gooi jy dadelik die gesifte meel in, alles gelyk. Klop dit goed totdat die meelmengsel ‘n bal vorm en dit nie meer aan die kante van die kastrol vassit nie.

Haal die mengsel nou van die hitte af en laat net effens afkoel, voor jy die eerste eier bygooi (sodat die eier nie skif nie). Klop die eiers een vir een by, klop goed na elke byvoeging. Die mengsel moet baie styf wees, so dit mag dalk nodig wees om die laaste eier nie by te gooi nie, of net ‘n gedeelte daarvan.

Voeg die mengsel in ‘n versierbuis en spuit klein klontjies op ‘n gesmeerde bakplaat. Bak dit in ‘n matige oond vir 20min by 200’C en sit dit dan af na 160’C vir nog 20min.

Jy kan dit ook prik as dit uit die oond kom en dan weer terugsit in louwarm oond om heeltemal uit te droog.

Die geheim van goeie soese is om die bestanddele presies af te meet, vinnig te werk en so gou moontlik in die oond te kry.

Vul met versoete, geklopte room of ander soet of sout vulsel van jou keuse. (die resep sal ongeveer 30 medium poffertjies maak)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.