Tipies van die nuwe Suid-Afrika

Posted by

AG, LIEWE VADERLAND! Corinus

Jy besluit om die naweek bietjie die groot stad te gaan verken. Jy sit (op die platteland) met hoë heinings, ‘n hond, diefwering, iemand wat in die huis sal slaap om ‘n ogie te hou, iemand wat in die woonstel agter aan die huis woon, diefwering voor al die vensters, ‘n “pasop vir die slang” bordjie op die voorhek, alarmstelsel – maar afgeskakel in die deel waar die inslaper moet beweeg, vensters en deure toe.

Ten spyte van al hierdie maatreëls kry ‘n sluiper dit tog reg om die slot van die skuifdeur aan die agterkant van die huis oop te forseer en toegang tot die huis te kry. Betingel, die vermomde leeu wat die huis bewaak (gereelde lesers sal
sommer dadelik weet dit kan net ‘n foxterrier wees) gee die dief egter nie kans om te veel skade aan te rig nie en het hy kom weg met ‘n muurhorlosie wat op die kas gelę het en ‘n draagbare radio/CD/bandspelerkombinasie.

Om enige verdere onkoste te vermy, word ‘n vriend die Sondagaand by tuiskoms gevra om die slot van die deur te herstel. Dit blyk toe ‘n groot fout te wees, want toe begin die nagmerrie met die versekeringseis. Die versekeraar dring aan op ‘n kwitansie vir die herstelkoste. Verduidelikings dat die herstelkoste gratis was, is nie aanvaarbaar nie. Hulle dring aan op ‘n kwitansie, of die gebreekte slot (wat nou reeds weer heel is) moet voorsien word! Alternatiewelik soek hulle bewys daarvan
indien daar by ‘n venster ingebreek is (dalk iets soos stukke gebreekte glas in ‘n koevert?) Eiser word verwittig dat ‘n assessor die huis sal besoek om seker te maak of daar diefwering was, of al die nodige voorsorgmaatreëls getref was, ens. Hy daag egter nooit op nie.

Die volgende dag is daar ‘n oproep met die opdrag dat die versekeringsmaatskappy ‘n verklaring van die SAPD vereis waarin die ondersoekbeampte bevestig dat hy die misdaadtoneel besoek het, dat hy gesien het dat daar diefwering voor al die vensters is, dat al die deure wel gesluit was (ja, ek weet die polisie is goed, maar waaragtig …) ens. ens. ens. ‘n Kopie van die beëdigde verklaring wat in die polisiedossier is, is nie aanvaarbaar nie. Nou wonder ek net of versekeringsmaatskappye ‘n ooreenkoms met die SAPD het om hierdie diens vir hulle te lewer vir al die inbraakgevalle wat hulle hanteer. Die arme polisie moet reeds met die minimum personeel die misdaadsituasie in ons land onder beheer probeer
bring. Van wanneer af kan maatskappye van hulle verwag om eisondersoeke ook te doen, en dit nogal gratis?

Amper so erg soos die slungel wat by die Ontvanger in Polokwane werk en brutaal ongeskik en onaangekondig by ‘n plaaslike rekenmeester instap. Hy eis net daar dokumente van ‘n sekere klient wat reeds maande tevore ingedien is. Het nie ‘n saak met bewys van ontvangs deur sy eie kantoor nie en dring aan op afskrifte. Onder protes word dit gemaak en teen handtekening aan hom oorhandig.

Ses weke later is hy weer daar, hierdie keer selfs meer ongeskik as voorheen en al vloekend konfronteer hy die rekenmeester. “Meneer, ek is nou behoorlik @#&$ die *&%$ *# in. Waar is hierdie klient se dokumente?” Die rekenmeester tik op die ontvangsbewys wat nog steeds op sy lessenaar lę, maar knaap stoom voort met sy tirade. Weer tik hy daarop, maar sonder sukses en besluit toe maar om na die amptenaar se vlak te daal.

“Luister, jou werktuig wat in ‘n sekreet hoort.” * (Gaan slaan maar die woordeboek na om die betekenis te snap, want ek mag nie platvloers raak nie). “Wat is dit dié?” en hy tik weer op die ontvangsbewys. Meneer loer daarna en eien dit wonder bo wonder as ‘n ontvangsbewys. “Kyk bietjie wie daarvoor geteken het.” Weer word geloer en sy eie handtekening word
herken. Ja, maar hy soek die dokumente en sommer nou, en bly erg ongeskik totdat die rekenmeester hom later met liggaamlike geweld dreig.

“O, maar ek is nog nie klaar met julle nie,” en met dit draai hy om en stap uit. Ek vra jou met trane in my oë …..

Dieselfde rekenmeester vertel van ‘n insident waar ‘n klerk van die Ontvanger hom skakel (darem nie weer van Polokwane nie) en vra dat hy ‘n sekere kwitansie aan haar moet stuur. “Maar Dame, julle het die kwitansie. Dit is saam met die dokumente ingedien.” Sy soek en jou werklikwaar, daar is die kwitansie steeds netjies vasgeheg, maar “Meneer, jy moet die
kwitansie vir my stuur.”

Uit moedeloosheid laat hy later sarkasties hoor. “Nou maar stuur dit vir my, dan pos ek dit weer vir jou.” ‘n Week later, hier is die kwitansie in sy pos en hy pos dit maar gedwee weer terug.

Voor u nou hier so met die verkiesing saam iets wil sę soos: “Tipies van die nuwe Suid-Afrika.”, moet ek u ongelukkig reghelp. Alhoewel die tyd die hede is, behoort al die betrokkenes tot die vorige bevoordeelde groep.
Daarom sę ek altyd aan my span finansiële adviseurs: “Daar word nie van jou verwag om ‘n klient teen sy eie onnoselheid te beskerm nie.” Ek het egter nog nie ‘n antwoord op die vraag wie ons teen onnoseles in gesagsposisies kan beskerm nie.

Ek sę maar net!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.