Jy is meer as net hare
Deur Anita Senekal
Ek onthou die dae toe ek met groot verwagting my hare by ‘n nuwe salon wou laat knip. Na ‘n paar teleurstellings en trane wat ek moes wegsluk, het ek amper moed opgegee. Die droom van ‘n haarkapper wat verstaan, wat tyd maak om te luister, het stadig verdwyn. Ek het telkens gehoop, gesoek na iemand wat nie net my hare knip nie, maar ook my hart verstaan. Maar keer op keer, soos ek daar sit en probeer verduidelik het wat ek wou hê, het my woorde verdwyn. Ek het met daardie leë teleurstelling en seer selfbeeld uitgestap.
Tot op ‘n dag… my volgende afspraak by ‘n splinternuwe salon. Met lae verwagting en vrees in my hart stap ek in, amper sonder enige selfvertroue oor. Maar van die eerste oomblik af het dinge anders gevoel. Ek is met warmte verwelkom – nie net as nog ‘n kliënt wat vinnig deur die dag moet kom nie, maar as iemand met waarde. Hulle het selfs ‘n kompliment gemaak oor my ou ste rokkie, ‘n gebaar wat so eenvoudig was, maar in daardie oomblik vir my so kosbaar. Vir die eerste keer in lank het ek regtig soos royalty gevoel weer.
Ek het gaan sit en ‘n keuse gekry wat ek nog nooit tevore in ‘n salon ervaar het nie: tee, koffie, cappuccino, en nog meer. Skielik het ek begin wonder of ek miskien in ‘n sprokie ingeloop het. My oë het deur die salon gedwaal en ek kon nie help om die kristal-kandelare en glansende glas te bewonder nie. Die rustige atmosfeer het soos ‘n sagte kombers oor my geval, en die benoudheid wat ek so lank gedra het, het stil begin verdwyn.
Toe ek uiteindelik my haarkapper ontmoet, het ‘n bietjie van daardie ou vrees teruggekom. Maar dit het vinnig verdwyn. Sy het vir 15 minute na my geluister – regtig geluister. Sy het raad gegee, met ‘n opregte glimlag en verstaan, asof sy eintlik verstaan wat ek wou hê. En toe, met wysheid wat my nog bybly, sê sy: “Om met iemand se hare te werk is net so belangrik soos ‘n hartoorplanting.” Die gewig van haar woorde het my diep geraak. Ek het besef dat hierdie nie net ‘n haarkapper is nie – sy verstaan die verantwoordelikheid wat sy dra. Sy weet dat hare nie net hare is nie, maar ‘n deel van iemand se identiteit, ‘n verlengstuk van selfvertroue en selfbeeld.
Daardie dag het ek uit die salon gestap met meer as net ‘n nuwe haarsnit. Ek het uitgestap met ‘n nuwe selfvertroue, met die wete dat daar nog plekke is waar diens ‘n ware roeping is, waar kliënte nie net nommers is nie, maar mense wat die moeite werd is. Ek dink met ‘n swaar hart aan die salons van gister wat ons verloor het, waar kliënte nie meer net kliente was nie, maar geliefde gesiggies wat deur ‘n gemeenskap van omgee en passie ondersteun is.
Vandag, soos ons haastig aanjaag en diens vinnig en oppervlakkig word, hoop ek ons vind weer daardie spesiale ruimtes. Die ruimtes waar ‘n kapper se hand meer is as net ‘n hand, waar dit ‘n verbinding skep, en waar die kliënt se hart en siel geraak word.